Hoe om Noodhulp vir Algemene Oogbeserings toe te pas
Oktober is Oogversorging-Bewusmakingsmaand. Die ideale tyd om jou kennis van basiese noodhulp vir oogbeserings op te knap. Oë is fyn en kwesbaar, of dit nou deur stof, chemikalieë of ‘n stomp hou beskadig word. By die Suid-Afrikaanse Noodhulpliga glo ons dat om te weet wat om te doen in daardie eerste kritieke oomblikke, sig kan beskerm, pyn kan verminder en die verskil kan beteken tussen herstel en permanente skade.
Klein vreemde voorwerpe in die oog
Dit gebeur maklik - ʼn bietjie stof, ʼn wimper of ʼn klein stukkie vuil land in jou oog. Hier is wat jy kan doen:
- Moenie die oog vryf nie, dit kan ʼn skrapie vererger.
- Trek die boonste ooglik liggies oor die onderste een, sodat trane die voorwerp kan uitspoel.
- Indien dit nie werk nie, spoel met skoon water of soutoplossing.
- As die voorwerp op die wit deel van die oog dryf of onder die onderste ooglid vassit, kan dit versigtig met ʼn klam wattedepper verwyder word.
- Indien die voorwerp nie maklik verwyder woerd nie, bedek die oog met ʼn skoon gaas en soek medies hulp.
- As pyn of irritasie langer as ʼn paar uur duur, of sig en ligsensitiwiteit beïnvloed word, besoek ʼn oogkundige.
Groter voorwerpe wat in die oog vassit
Wanneer ‘n stuk glas, hout of metaal in die oog vassit:
- Moenie dit probeer uithaal nie! Selfs ‘n klein beweging kan groter skade veroorsaak.
- Hou die oog stil en bedek albei oë liggies om beweging te beperk.
- Plaas ‘n stewige beskerming (byvoorbeeld die onderkant van ‘n papierbeker) oor die beseerde oog.
- Moenie druk uitoefen op die oogbal nie.
- Soek onmiddellik noodmediese hulp.
Chemiese brandwonde aan die oog
Chemikalieë soos sure, alkalië en skoonmaakmiddels is uiters gevaarlik en vereis onmiddellike optrede:
- Spoel die oog onmiddellik met skoon water of soutoplossing terwyl jy die oog oop hou.
- Laat die water van die binneste hoek (naby die neus) na buite vloei om kruisbesoedeling te voorkom.
- Spoel vir minstens 20 minute aanhoudend.
- As die persoon kontaklense dra, moenie dit dadelik verwyder nie. Hou aan spoel.
- Kry onmiddellik mediese hulp; chemiese skade kan nie altyd met die blote oog gesien word nie.
Houe en kneusplekke aan die oog
‘n Direkte hou teen die oog kan kneusplekke of interne bloeding veroorsaak:
- Plaas ‘n koue kompres of ys in ‘n lap toegedraai op die area om swelling te verminder.
- Moenie op die oog druk nie.
- As pyn ernstig is, sig vertroebel of bloeding voorkom, soek dadelik mediese hulp.
Snywonde aan die oog of ooglid
Snywonde is altyd ernstig:
- Moenie die wond uitspoel as dit diep is nie.
- Moenie enige voorwerp wat vassit probeer verwyder nie.
- Bedek die oog met ‘n harde beskerming of koppie en draai albei oë toe met ‘n skoon verband om beweging te beperk.
- Gaan onmiddellik na Ongevalle.
Voorkoming is beter as genesing
Voorkoming bly die beste beskerming teen oogbeserings:
- Dra altyd oogbeskerming tydens handwerk, gras sny, sport of wanneer jy chemikalieë gebruik.
- Vermy speelgoed of toestelle wat voorwerpe skiet of skerp punte het.
- Berg chemikalieë, spuitmiddels en skoonmaakmiddels buite kinders se bereik.
Samevatting
Oogbeserings kan binne ‘n oogwink gebeur, en gedurende Oogversorging-Bewusmakingsmaand herinner dit ons daaraan hoe belangrik dit is om vinnig reg op te tree. Of dit nou ‘n stofdeeltjie is wat uitgespoel moet word, of ‘n ernstige besering wat gestabiliseer word, noodhulpkennis kan jou oog red.
As jy ooit onseker is oor die erns van ‘n besering, behandel dit as dringend en kry professionele hulp. Die Suid-Afrikaanse Noodhulpliga moedig almal aan, tuis, by die werk en by skole, om hierdie noodsaaklike vaardighede aan te leer en te deel.
Wil jy meer leer oor Noodhulpkursusse? Kontak ons by 012 644 0918 of besoek https://www.noodhulpliga.co.za/opleiding.

